Psalm 100: 1-2 : Juig tot eer van die Here, almal op aarde! Dien die Here met blydskap! Kom voor Hom met gejubel!

Saturday, November 7, 2015

#NGKerk Piet Retief se verklaring RE: AS2015 se besluite rondom SGV

NG Piet Retief: VERKLARING Die Bybel is die Woord van God en ons staan onder sy outoriteit. Daar is geen verwysing daarin wat homoseksualiteit goedkeur nie. Die 2015 Sinode sê dat die huwelik ‘n verbintenis tussen ‘n man en vrou is, maar maak nou voorsiening vir selfde geslag verbintenisse as ‘n alternatief vir diegene wat nie aan die Bybelse definisie kan voldoen nie. Dis onbybels en ‘n dwaalleer. “Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie. En so was party van julle juis ook. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God.” 1 Kor 6:9-11 Dit word goed uitgelig in Johannes 8 met die vrou wat in owerspel betrap is en voor Jesus gebring is. Jesus spreek dié aan wat haar wil stenig en sê: “Laat die wat sonder sonde is, die eerste klip gooi.” As hulle een vir een omdraai, vra Hy vir haar: “Waar is jou beskuldigers? Het niemand jou veroordeel nie?” Dan sê Jesus vir haar (en ek glo Hy het dit met deernis en liefde gesê): “Ek veroordeel jou ook nie, gaan heen en sondig nie meer nie.” Hierdeur het Jesus diegene wat wil klippe gooi aangespreek (en dis wat die Sinode wou doen) en Hy reik uit na die vrou wat gesondig het en sy kry vergifnis. Die geweldige skuld en skaamte wat sonde veroorsaak het, het Hy van haar weggeneem, maar Hy het nie nagelaat om vir haar te sê om nie meer te sondig nie. Dis wat die Sinode nagelaat het. Jesus se waarheid is uit die Sinode besluit gelaat. Die Sinode moes ons eerder toegerus het hoe om in liefde en waarheid ‘n pad te stap met gelowige lidmate wat worstel met hulle seksuele oriëntasie. Ons kan ons dus ook nie vereenselwig met die kompromie besluite wat deesdae in die Kerk voorgestel en geneem word nie. Daar kan nie ten opsigte van ernstige leerstellings kompromieë wees wat ruimte laat om dit te aanvaar of nie te aanvaar nie. Vir mense wat worstel met hulle aangetrokkenheid tot mense van dieselfde geslag, wil ons sê dat ons jammer is oor al die spot en verwerping wat u al moes beleef – dikwels ook van mede Christene. Ons wil graag ons maksimum liefde en ondersteuning aanbied aan diegene wat hierdeur geraak word. Ons vra dat leiding geneem sal word deur die kerk om gemeentes toe te rus om ondersteuningsgroepe tot stand te bring wat diegene sal help en lei tot eer van Christus. BESLUIT Tydens die Kerkraadsvergadering van 5 November 2015 besluit die Kerkraad van die NG Gemeente Piet Retief as volg: 1. Ons is oortuig dat die Skrif ons leer dat ’n huwelik die lewenslange verbintenis is tussen een man en een vrou, wat mekaar met die liefde van Christus versorg. Ons aanvaar dat die enigste wyse waarop ’n christelike huwelik tot stand kom, is tussen een man en een vrou, met Christus as die middelpunt. Daarom verwerp ons die Algemene Sinode se besluit wat voorsiening maak vir selfdegeslag verbintenisse wat deur die kerk goedgekeur en voltrek kan word. 2. Ons glo dat die Skrif daaroor baie duidelik is dat alle seksuele verhoudings buite die huwelik teen God se wil en plan is. Die beoefening van homoseksualiteit is dus, soos alle ander sondes waaroor die Skrif praat, teen God se wil en plan Vir al hierdie sondes is daar vergifnis en vrymaking deur die bloed van Jesus Christus. 3. Ons gemeente se deure staan met die liefde en deernis van Christus Jesus oop vir alle mense. Wanneer ’n persoon egter in enige sonde volhard, kan hy/sy nie in ’n leiersposisie (leraar, ouderling, diaken, wyksleier of diensgroepleier) in ons gemeente diens doen nie. 4. Ons aanvaar nie die besluit van die Algemene Sinode van 2015 oor selfdegeslag-verhoudings nie en beskou dit as ’n dwaalleer. Ons is geskok oor die wyse hoedat eeueoue, bewese Gereformeerde eksegetiese en hermeneutiese beginsels tydens ons kerk se beleidmakende Sinode deur ’n meerderheid afgevaardigdes geïgnoreer is en Skrifgedeeltes sodanig geherinterpreteer en gemanipuleer is ten einde die idee te skep dat hierdie dwaalleer Bybels-verantwoordbaar is. Ons roep diegene wat daarvoor gestem het op om om te draai van hierdie verkeerde weg en om terug te keer na die baie duidelike lering daarrondom in die Woord van God en vra die kerk (gemeentes, ringe, streeksinodes en die Algemene Sinode) om die dwaling reg te stel. 5. Ons spreek ons dank uit teenoor die Oostelike Sinode, wat pro-aktief ’n beskrwywingspunt na die Algemene Sinode toe deurgestuur het in ’n poging om bogenoemde dwaling te verhoed. Ongelukkig het genoemde beskrywingspunt nie tot sy reg gekom binne die manipulerende konteks waarbinne die saak behandel is nie. 6. Ons versoek ook die Oostelike Sinode om dringend aandag te gee aan die erg-verskraalde wyse waarop die kerk deesdae in die Algemene Sinode verteenwoordig word en wat, na ons mening, telkens daartoe lei dat besluite, wat totaal onaanvaarbaar is vir die meerderheid in die NG Kerk, deur minderhede deurgeforseer word. Waar is die dae dat elke ring, byvoorbeeld, self die geleentheid gekry het om ’n leraar en ouderling na die Algemene Sinode af te vaardig wat volgens hulle hul saak die beste sal kan verteenwoordig? Die vorige Algemene sekretaris van die NG Kerk, Dr. Kobus Gerber, het tereg in die voorwoord van die agenda erken dat die leierskap van die NG Kerk rondom artikel 1 besef het dat hulle ’n baie verkeerde idee gehad het oor hoe die gemeentelede op grondvlak daaroor voel. Dieselfde geld die besluit oor selfdegeslag-verhoudings. Ook die feit dat leiersfigure van die NG Kerk onlangs openlik hulle solidariteit vir die betogende studente tydens die Fees must Fall-veldtog getoon het, is vir talle lidmate, wie se kinders emosioneel, fisies, akademies, finansieel en andersins (deur onder andere viktimiasie en vandalisme) gely het onder die chaos, moeilik om te aanvaar. Ons mis daarin ’n sensitiwiteit vir ’n groot deel van ons lidmate en sien daarin ’n oordrewe ingesteldheid om diegene te ondersteun vir wie “om altyd benadeeldes te wees” ’n primere lewenshouding geword het. 7. Ons gee die getuienis rondom die gemeente se onlangse viering van Hervormingsondag sowel as die verklaring en besluit van die Kerkraad aan die Sinodale Diensraad en aan die ASM deur. Die Kerkraad versoek die leraars om ’n brief aan die Diensraad van die Oostelike Sinode te rig waarin hulle standpunt teen die besluit van die Algemene Sinode verwoord word en versoek die Diensraad om binne drie maande ’n spesiale sitting van die Oostelike Sinode byeen te roep waartydens die kerk in sy breë die geleentheid kan kry om hulle weerstand teen genoemde besluit uit te spreek. Ook versoek ons die Sinodale Diensraad om alles in hulle vermoë te doen om die ASM te oortuig om nie die Handelinge van die Algemene Sinode te publiseer alvorens streeksinodes ruim geleentheid gehad het om hulle standpunte te bespreek, te formuleer en na die ASM deur te stuur nie. 8. Indien bogenoemde proses onsuksesvol sou wees, sal die Kerkaad, in oorleg met die gemeente, herbesin, onder andere, rondom die oorbetaal van sinodale bydraes. (Tydens ons vergadering van 5 November 2015 was daar ’n sterk gevoel dat ons as gemeente reeds ons sinodale bydraes moet begin weerhou, maar die leraars het hulle versoek om dit, ten minste vir die huidige, nie te doen nie sodat ons eers alle ander weë kan probeer volg.) Die kerkraad onderneem om die gemeente deurentyd ingelig te hou en om aan hulle die geleentheid te gee om voortdurend hul standpunte te laat hoor. DR. HANCKE VAN BLERK (VOORSITTER) DS. ROELF VAN NIEKERK (MEDELERAAR)

No comments:

Post a Comment