Psalm 100: 1-2 : Juig tot eer van die Here, almal op aarde! Dien die Here met blydskap! Kom voor Hom met gejubel!

Sunday, November 20, 2011

"Wanneer God mense nuut maak" - Bennie Mostert

Ek is besig om te lees aan Bennie Mostert se nuutste boek " Wanneer God mense nuut maak", waarin hy 40 merkwaardige verhale vertel van vernuwing, van herlewings op verskillende plekke dwarsoor die wereld (werklik die moeite werd om te lees).

"Sonder herlewing sal ons nie die geestelike krag he om te doen wat die kerk moet doen nie en sal die land en die wereld nie verander nie." (p.222). Daar is basiese ooreenkomste in al die herlewings: intense langdurige gebed het dit voorafgegaan, daar is hartgrondige sondebesef en berou, mense keer terug na Jesus en ‘n intieme verhouding met God, herlewing herstel die focus op sending en evangelisasie. Hy bespreek ook in elkeen van die veertig plus hoofstukke die ingrypende sosiale impak ten goede wat die herlewings meegebring het op al die gebiede.

Hy gee ‘n moontlike definisie van herlewing as: “’n soewereine, spontane, onverklaarbare uitstorting en werking van die Heilige Gees wat nie georganiseer of beplan ... word nie” (p.15) en verder: " As Christene glo ons dat Jesus die enigste weg na die Vader is. Of ons glo die Bybel of ons glo dit nie. Daar is geen neutrale grond oor hierdie saak nie" (p.17).

Die boek laat by my 'n innige verlange brand dat ons ook spoedig sulke tye van vernuwing mag beleef!

Monday, November 14, 2011

Christen of Christus-volgeling?

Iets interessants op TC Breytenbach se blog: Onder die opskrif ‘ Nuwe Spiritualiteit vervang Christendom’ begin hy deur die vraag te vra: Is daar 'n verskil tussen 'n Christen en 'n Christus-volgeling? "Ja", sê Tamara Hartzell in haar artikel, "Preparing for the Emerging One Church of the New World", "...daar is 'n hemelsbreë verskil tussen die Nuwe Spiritualiteit en die Christelike geloof waarbinne eersgenoemde tans besig is om laasgenoemde verdringend te vervang". Hartzell beweer dat wanneer die Nuwe Spiritualiteit finaal daarin geslaag het om alle Christene tot Christus-volgelinge te transformeer, die verskil so duidelik sal wees soos die verskil tussen dag en nag.

Die begrip Christus-volgeling is baie subtiel gekies om nie té verdag te lyk ter voorbereiding van die "Emerging One Church of the New World" nie. Vir dié kerk-in-wording is die begrip "Christen" té eng en eksklusief. Christus-volgeling is inklusief en akkommodeer volgelinge van (die) Christus uit alle ander godsdienste.

Christene baseer hul geloof op die Bybel, die regte dogmas, teologiebeoefening en 'n enkele waarheid soos vervat in God en Sy Woord. Christus-volgelinge behoort aan enige godsdiens of geloof, dogma en teologie is irrelevant, dade is veel belangriker as geloof, en waarheid is in alle godsdienste en gelowe te vind.

Eenheid, ten koste van alles, vorm toenemend die grondslag van die wêreld, en so ook van die Kerk. Die Christenbegrip word toenemend geassosieer met onverdraagsaamheid, verdeling, vooroordeel, veroordeling en wettisisme. Christene sê vir die wêreld daar is 'n enkele God en slegs één Weg na Hom toe. Die wêreld vind dit onaanvaarbaar.

Christus-volgeling word nou die aanvaarde benaming. In die nuwe wêreld sal dié "gelowige" nie-dogmaties, versoenend, akkommoderend, onbevooroordeeld en toegeeflik teenoor alle ander gelowe wees. 'n Gemeenskaplike god word aanbid waartoe enige "gelowige" sy eie weg tot dié god mag vind. Die Christelike geloof word een van vele gelowe, almal op gelyke voet. Teenoor hierdie Nuwe Spiritualiteit sal die wêreld verdraagsaam wees - die Christendom het misluk.

Hier is die skakel na TC se blog: http://waterswaarrusis.blogspot.com/2011/11/nuwe-spiritualiteit-vervang-christendom.html
En hier is die skakel na die artikel waarna hy verwys: http://www.crossroad.to/Excerpts/books/in-name-of-purpose/led-away/2-emerging-one-chuch.htm

Friday, November 4, 2011

Kan mens dan KIES wat mens oor die duiwel wil glo??

Volgens Neels Jackson se berig “NG Kerk laat ruimte vir botsende sienings oor duiwel” (Beeld, 13 Oktober) sê dr. Ben du Toit van die Wes- en Suid-Kaapse sinode hy glo nie in die bestaan van die duiwel nie en hy word blykbaar daarin gesteun deur ander afgevaardigdes by die AS.

Wat ’n hooplose boodskap van die AS-leiers aan sy getroue NG lidmate! Mense wat die Bybel sien as “woorde oor God” en nie “die Woord van God” nie, gebruik graag woorde soos “mities” en “metafories” vir dit waarin hulle nie glo nie (of nie wil glo nie, want dan hoef hulle mos nie verantwoording te doen nie?).

Die leer oor die duiwel (op verskillende plekke in al drie belydenisskrifte van Gereformeerde kerke) het te doen met die sondeval soos ons daarvan lees in Genesis 3. Paulus verduidelik dit so in Rom. 2 vers 23: dat ons almal gesondig het en dat dit ons ontbreek aan die heiligheid van God. Die sondeval het ’n breuk tussen God en mens veroorsaak wat net herstel kan word deur die reddende genade van Jesus Christus deur sy dood, in ons plek, vir ons sondes, aan die kruis.

Geen bose, geen sondeval. Geen sondeval, geen mensdom wat verlossing nodig het nie.

Eeue en eeue se sendingwerk en Christen-marteling oor die wêreld heen vergeefs.

Jesus het verniet gely en vir niks aan die kruis gesterf. Geen hiernamaals. Jammer, broers en susters, geen “evangelie” (goeie nuus) nie, als net sleg ...

“Maar al sou een van ons of selfs ’n engel uit die hemel aan julle ’n ander evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat ons aan julle verkondig het – die vloek van God sal hom tref!” (Gal.1:8)