Psalm 100: 1-2 : Juig tot eer van die Here, almal op aarde! Dien die Here met blydskap! Kom voor Hom met gejubel!

Thursday, November 5, 2015

AS SINODE GAY-BESLUIT HANDHAAF, GEE NG KERK IN KOKSTAD PAD

HIERDIE BERIG WAS NIE ELEKTRONIES BESKIKBAAR NIE, EK HET DIT IN VANDAG SE GEDRUKTE BEELD GELEES EN OORGETIK: Geskryf deur : Pieter Steyn in BEELD Donderdag 5 November 2015. Die NG gemeente Kokstad in KwaZulu-Natal gaan geen kompromieë aangaan oor die algemene sinode se besluit oor gays nie. As die algemene sinode nie tot inkeer kom en sy besluit wysig nie gaan ons stap, het ds Petrus Fouché, leraar van die gemeente, Woensdag gesê. Dit val saam met die besluit van die KwaZulu-Natalse moderamen om die algemene sinode se moderamen te versoek om die besluit uit te stel sodat streeksinodes daaroor kan praat. Intussen het die Namibiese NG kerk aangekondig dat hy nie onderhewig is aan die algemene sinode se besluit oor gays nie. Fouché het Woensdag aan Beeld gesê as die kerk 'n dominee wat 'n gay lewe lei op die kansel toelaat, mag 'n dominee wat 'n alkoholis of pedofiel is die kansel ook bestyg. "Die algemene sinode het die plig gekry om oor die leer en lewe van predikante en kerkraadslede te waak, om die kerk se leer suiwer te hou. Ons verwerp die nuwe rigting wat die algemene sinode inslaan met die volle hartseer en minagting wat dit verdien." Volgens Fouché verval die sola Scriptura-beginsel (net God se Woord is waarheid) deur dié besluit van die algemene sinode. "Die maagdelike geboorte en ander heilsmomente word ook verdag gemaak en so word die tweed solus, sola Christus, verwerp. Die algemene sinode se evangelie verkondig nie meer sonde as 'n breuk tussen God en mens nie, maar as 'n breuk tussen mens en mens wat herstel moet word. Die uitspraak dat die kerk se leer nou in ooreenstemming met die land se Grondwet is, herbevestig dit. "Hierdeur word sonde verskraal tot sosiale denkstelsels waarin menswaardigheid en aardse geregtigheid met die gepaardgaande restitusie onderling die allerbelangrikste faktore in die evangelie word." Fouché sê om weg te breek van die NG Kerkverband, sal die laaste uitweg wees. "Ons sal al die moontlike weë benut, maar sal nie 'n kompromie aangaan nie." Ds Frikkie van der Merwe, moderator van KwaZulu¬-Natal, sê die streeksinode se moderamen vra dat die besluit uitgestel moet word sodat streeksinodes daaroor kan praat. "Ons vra vir 'n kans op streeksinodale vlak om 'n oop gesprek te hê. Ons wil die pad saam loop." Nóg Fouché nóg Van der Mere weet wat die toekoms inhou as die algemene sinode sy besluit nie wysig nie. "Ons sal dan moet kyk wat ons opsies is," het Fouché gesê. Ds Pine Pienaar, moderator van die streeksinode in Namibië, sê afgesien daarvan dat die land se wette nie voorsiening maak vir gay-burgerlike verbintenisse nie, het die algemene sinode dit goedgekeur dat dié streek nie onderhewig is aan die gay-besluit nie. "Namibiese predikante gaan gay-paartjies nie in die eg verbind nie en gay proponente gaan nie in die amp georden word nie.

No comments:

Post a Comment