Psalm 100: 1-2 : Juig tot eer van die Here, almal op aarde! Dien die Here met blydskap! Kom voor Hom met gejubel!

Monday, June 29, 2020

DIE BEOOGDE BEVESTIGING VAN BURGERLIKE VERBINTENISSE TUSSEN PERSONE VAN DIESELFDE GESLAG

Dit word vertel dat mense wat vervalste note moet uitken, heel eerste leer hoe egte note lyk, voordat hulle gewys word op waar die valshede is. Wanneer iemand weet waarna hy moet kyk, en die note vir spesifieke identifiserende eienskappe ondersoek, kan vals note makliker geïdentifiseer word. Waarom is dit so belangrik om elke noot te kontroleer? Want sodra ek 'n noot aanvaar, word daardie geld my verantwoordelikheid. DIT WAT EK AANVAAR, WORD MY VERANTWOORDELIKHEID. Net soos ek verantwoordelik is vir die geldnoot wat ek aanvaar en later probeer spandeer (en dalk in die moeilikheid kan beland omdat ek betrap is met ‘n vervalste noot in my besit), is ek ook verantwoordelik vir die leerstellings wat ek aanvaar en ook met ander wil deel. Dit is dus my verantwoordelikheid voor God om elke lering wat op my pad kom, te ondersoek. As Bybelgelowige Christen moet ek elke lering wat aan my aangebied word toets en weier om enigiets wat teen die leer van die Skrif is, te aanvaar. Uit hierdie oogpunt van wat eg is en wat vals is wil ek kyk na besluit 10 van die AS2019. Daar staan: 10. Die Algemene Sinode dra dit aan ATLAS op om ‘n formulier te ontwikkel vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag. Voordat ek die ontwikkeling van die formulier genoem in punt 10 bespreek, gaan ek eers kyk na die egte: God se Volmaakte Plan vir egverbintenisse kry ons in Genesis hoofstukke 1 en 2, VOOR die Sondeval in Genesis 3. In Genesis 1 vers 31 kyk God na die skepping en dit was baie goed. Sy volmaakte plan vir die skepping en dus ook vir die mens was baie goed. Die huwelik is nie 'n instelling wat deur die mense geskep word nie. Dit is 'n instelling wat deur God ontwerp en geskep is. In die bestaande huweliksformulier (wat gebaseer is op die gereformeerde leer) word die verbintenis tussen ‘n man en ‘n vrou ‘n huwelik genoem. Die tradisionele formulier begin deur te verklaar dat die huwelik deur God ingestel is toe Hy aan die begin gesê het: "Dit is nie goed dat die mens alleen is nie; Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke" ( Genesis 2:18). Jesus gee gesag aan die huwelik as instelling van God deur daarna te verwys - “Hy het hulle geantwoord: “Het julle nie gelees dat die Skepper hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie? Daarby het Hy gesê: ‘Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe en hulle twee sal een wees.’ Hulle is dus nie meer twee nie, maar een. Wat God dan saamgevoeg het, mag 'n mens nie skei nie.” (Matteus 19:4-6). Dit is 'n lewenslange verbintenis tot mekaar wat voor God en voor getuies gemaak word. Dit is 'n verbond, so te sê, en albei partye moet hulle lewenslank met die ander verbind. So het God hulle as man en vrou geskep om mekaar as huweliksmaats aan te vul en by te staan. In Genesis word gepraat van “man” (die Hebreeuse woord vir man is “ish”) en “mannin” (die Hebreeuse woord vir mannin is “ishah”). Daar word geen melding gemaak van enige ander seksuele oriëntasies of identiteite nie as net man en vrou, dus heteroseksueel. Om kinders te hé word ook genoem in die huweliksformulier en maan die egpaar: “maak hulle groot met die dubbele versekering: Ons is gebore uit die liefdesverbond tussen ons ouers en ons leef as huisgesin uit die genadeverbond wat die hemelse Vader met sy kinders in stand hou”. “Daarom sal ‘n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word” (Genesis 2:24) verduidelik dat hulle twee nou een word, een in die gesin, met bepaalde doelstellings en in eenheid. God het die mensdom geskape, en toe het Hy die huwelik geskape. Die Bybelse huwelik en familie is ‘n Goddelike instelling. Die eerste keer wat die woord seën in die Bybel gebruik word, is in Genesis 1 vers 28 : “Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip.” Noag en sy gesin ontvang basies dieselfde opdrag met die seen daarby: “God het vir Noag en sy seuns geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie en bewoon die aarde”’ (Genesis 9:1). Dit maak wat in Ps 127:3 staan soveel kragtiger: “Seuns is geskenke van die Here, kinders word deur Hom gegee”. Wanneer ons vra hoe lyk die normale huwelik in die Bybel, met ander woorde, wat is die norm, die standaard, die gedragsnorm rakende die huwelike in die Bybel? Dan moet ons erken: al die huwelike in die Bybel is heteroseksueel, daar is geen voorbeeld van huweliksverbintenisse van mense van dieselfde geslag nie. Albei die geslagsregisters van Jesus se voorouers is gebaseer op heteroseksualiteit. Om ‘n formulier te ontwikkel vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag, is om te poog om die abnormale te normaliseer. Die valse, on-Bybelse beeld van seksuele oriëntasies of identiteite en selfdegeslagverbintenisse as ‘n gawe of selfs ‘n goeie gawe van God is blatante misleiding wanneer dit vergelyk word met God se volmaakte plan vir die huwelik en gesin. Daar kan nie op die normale wyse kinders in so verbintenis verwek word nie. Inteendeel, hulle sal in werklikheid egbreuk pleeg wanneer kinders wel deur een van die persone in selfdegeslagverbintenisse met persone van buite se hulp verwek word. Om terug te kom by punt 10 van die besluite geneem deur die AS van 2019 naamlik, “Die Algemene Sinode dra dit aan ATLAS op om ‘n formulier te ontwikkel vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag”: Formuliere is plegtige verklarings wat voor God en voor ‘n gemeente gesluit word. Dit kan ook nie ‘n kerklike instelling wees nie, want die vraag kan in die lig van die voorafgaande gevra word: hoe gaan dit Bybels gefundeer word?

No comments:

Post a Comment