Psalm 100: 1-2 : Juig tot eer van die Here, almal op aarde! Dien die Here met blydskap! Kom voor Hom met gejubel!

Tuesday, June 23, 2020

AS2019, DIE BELYDENISSKRIFTE EN GELOOFSBELYDENISSE

Was die belydenisskrifte en geloofsbelydenisse in gedrang by die Algemene Sinode van 2019 (AS2019) se besluite rakende selfdegeslagverhoudings en die samestelling van die konsepgids wat in 2020 verskyn het? “Die besluit bely dat die eenheid van die kerk gefundeer is in ’n eenheid met Christus EN DIE BELYDENISSKRIFTE. Hierdie eenheid verbrokkel nie as daar verskille oor die hantering en uitleg van die Bybel is nie”. Hierdie is ‘n aanhaling uit ‘n artikel in die Kerkbode van 8 Oktober 2019 na afloop van AS2019 (lees meer hier: https://kerkbode.christians.co.za/2019/10/08/selfdegeslagbesluit-diversiteit-is-n-gawe/). Deur die belydenisskrifte pertinent te noem, gee die afgevaardigdes wat tot hierdie besluit gekom het, te kenne dat die besluit gegrond is op die gereformeerde grondslag van die NG kerk. Die opskrif van die artikel is “SELFDEGESLAGBESLUIT: ‘DIVERSITEIT IS ’N GAWE’ “ . Die algemene strekking van hierdie artikel gee vir my die indruk dat die artikel geskryf is ter verduideliking van die besluit aangaande selfdegeslagverhoudings wat geneem is by AS2019. Die opskrif impliseer immers dat homoseksualiteit ook deel is van die diversiteit wat ‘n gawe is, want dit was die hoofonderwerp van daardie dag. Kerkrade word aangemoedig om in die verkiesing van mense tot die ampte lidmate se doop, roeping, spiritualiteit en getuienis oor leer en lewe in ag te neem, en ook ras, geslag of klas of seksuele oriëntasie of identiteit. Die besluit gee ook erkenning aan verskillende standpunte oor die bevestiging van gay paartjies in burgerlike verbintenisse en bevestig die ruimte vir almal om volgens eie oortuiging op te tree. Na afloop van die sinode is ‘n persverklaring gedoen (lees hier: https://kerkbode.christians.co.za/2019/10/10/selfdegeslagverhoudings/). By punte 6.5 en 7.4 word daar verwys na die in agneming van persone se seksuele oriëntasie en identiteit . Al word hier hoog opgegee dat die besluit in lyn is met die belydenisskrifte, is dit nodig dat die vraag gevra word: in watter mate was die besluit nie in lyn met die belydenisskrifte nie? Voortspruitend uit AS2019 was ‘n konsepgids ontwikkel om die kerk se tien streeksinodes te help om met gemeentes en lidmate gesprek te voer oor die 2019-sinodebesluit oor selfdegeslagverbintenisse (lees meer hier: https://kerkbode.christians.co.za/2020/03/04/selfdegeslagbesluit-nuwe-gids-wil-sinodes-en-lidmate-help/ ) . Die uitgangspunte in hierdie gids sal ook in aanmerking geneem word by hierdie artikel. Die NG Kerk is deel van ‘n baie groot gereformeerde familie, daarom sal die bril waardeur ek kyk, aspekte van die gereformeerde leer wees soos dit in 'n wêreldwye familie van gereformeerde kerke verstaan word. 1.1 REFORMATORIESE SKRIFBESKOUING, SKRIFGESAG EN SKRIFGEBRUIK 1.1.1 SKRIFBESKOUING ‘n Reformatoriese Skrifbeskouing glo die Bybel bevat die wil van God volkome en alles wat die mens vir sy saligheid moet glo, word voldoende in die Skrif geleer (Artikel 7 van die Nederlandse Geloofsbelydenis, ook genoem die NGB). Dit het gesag, is betroubaar, is genoegsaam en is duidelik. ‘n Reformatoriese Skrifbeskouing glo die Heilige Gees is die eintlike verklaarder van die Skrif. Wetenskaplike arbeid moet in lyn wees met die Bybel en in nederigheid plaasvind, begelei deur gebed - nie net eie gebede nie, maar ook die gebede van medegelowiges wat saam die gawe van Skrifverstaan van die Gees afbid. 1.1.2 SKRIFGESAG ‘n Refomatoriese beskouing oor Skrifgesag is dat die Bybel ons soveel leer as wat ons vir ons saligheid, en om tot God se eer te leef, nodig het. (Artikel 7 van die Nederlandse Geloofsbelydenis, ook genoem die NGB). Dit is gesaghebbend. Dit is God se Woord in mensetaal en kan uitgelê, verklaar en toegepas word onder leiding van die Heilige Gees. 1.1.3 SKRIFGEBRUIK/-TOEPASSING ‘n Refomatoriese beskouing oor Skrifgebruik /-toepassing word in die Skrif self gekry. Volgens 2 Timoteus 3 verse 16 tot 17 het die Skrif groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek. Besinning oor die gebruik van die Skrif is dus van wesenlike belang. As deel van Skrifgebruik en Skriftoepassing kan ook gekyk word na die middele waardeur ons God ken. Ons ken God deur twee middele, kortweg gestel, deur natuur en Skriftuur. Soos dit in Artikel 2 van die NGB staan: “Ten eerste deur middel van die skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld. Dit is immers voor ons oë soos 'n mooi boek waarin alle skepsels, groot en klein, die letters is wat ons die onsigbare dinge van God, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, duidelik laat sien, soos die apostel Paulus sê (Rom. 1:20)”. Dit is die “natuur” waardeur God geken kan word en word ook die algemene openbaring genoem en is dit wat deur alle mense op aarde waargeneem kan word. Artikel 2 van die NGB gaan voort en verklaar “Ten tweede maak Hy Hom deur sy heilige en Goddelike Woord nog duideliker en meer volkome aan ons bekend, en wel so veel as wat vir ons in hierdie lewe nodig is tot sy eer en tot die saligheid van hulle wat aan Hom behoort”. Dit is die”Skriftuur” waardeur God geken kan word en word ook die spesifieke openbaring genoem. 1.1.4 DIE VYF SOLAS Die vyf solas van die Hervorming is die basis van gereformeerd wees: Sola Scriptura – die Skrif alleen. Sola gratia – genade alleen. Sola fide – geloof alleen. Sola Christus – Christus alleen. Soli Deo gloria – aan God alleen die heerlikheid. 1.2 HEDENDAAGSE TENDENSE BY SOMMIGE LEIERS VAN DIE NG KERK Wanneer daar gekyk word na Skrifgesag, kan vrae gevra word soos: Hoe kan die Skrif verstaan word? en: Watter vertrekpunte is bepalend vir die verstaan van die Skrif? Wanneer die kerk haar vertroue verloor in die outoriteit van die Heilige Skrif, sal sy noodwendig menslike opinies vir leiding gebruik. Vandag is ‘n teologiese uitgangspunt, geloof en ongeloof, sentraal en is die vraag: “Is die Bybel die Woord van God of gewoon menslike woorde?” Dit is belangrik om te weet in hoeverre die menslike karakter van die Bybel beklemtoon word ten koste van sy Goddelike karakter. Dit moet in ag geneem word dat postmodernisme ‘n groot rol speel in kontemporêre Skrifbeskouings. Ongelukkig het talle geestelike leiers en selfs lidmate van die NGK beinvloed geraak deur die gees van postmodernisme. Postmoderne Bybelse kritiek is “anti-foundational, antitotalizing and demystifying”; dit maak geen aanspraak op die waarheid nie; en geen teorie kan alles omvat nie. Vir die postmodernisme is niks suiwer, absoluut, totaal, verenig of universeel nie. Postmoderniste hou daarvan om aan die teenoorgestelde te dink deur Bybelse interpretatiewe tendense teen te gaan. Postmoderne dekonstruksie as hermeneutiese metodiek in die interpretasie van die Bybel en belydenisskrifte stroop die teks van alle objektiewe betekenis en tas die verstaan van die Skrif en belydenisskrifte aan. Hierdie hedendaagse tendense rakende Skrifgesag en Skrifbeskouing en interpretasies van wat in die Bybel staan is ‘n geruime tyd al sigbaar by besluite wat by groot vergaderings van die NG Kerk geneem word. Dit kan gevra word wat die wêreldbeskouing is van die kerkleiers wat ‘n aantal jare nou al besig is om beskouinge rakende homoseksualiteit in ‘n bepaalde rigting te stuur (Lees in die inleiding van die konsepgids hoe dit meer en meer in ‘n liberale rigting ontwikkel het). Vir my as belydende Christen is die Twaalf Artikels die eenvoudigste maatstaf waaraan ek ‘n persoon se wêreldbeskouing meet. “Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde” - - kan iemand wat Genesis 1 tot 11 ‘n feeverhaal noem, of mites, of selfs die hele Ou Testament “antieke geskrifte” noem, hierdie woorde met hulle hele hart bely? Iemand wat in evolusie glo of verklaar dat God evolusie gebruik het om te skep, negeer mos die Christelike beskouing dat God met Sy Woorde geskep het. In Genesis 1: 1–2 lees ons byvoorbeeld dat die Gees van God - die Heilige Gees - op die oomblik van die skepping oor die waters gesweef het, en dit wys ons op sy intieme betrokkenheid by die proses om die aarde te vul met lewe. Jesus self het gesag aan die Ou Testament verleen deur van tyd tot tyd aan te haal daaruit, en spesifiek aan die huwelik as Goddelike instelling in Markus 10:7-9, waar Hy verwys na Genesis 2 vers 24. Deur minagting van die eerste hoofstukke van die Bybel, trek ‘n mens ook ‘n streep deur die Sondeval. Met ander woorde, as daar nie ‘n Sondeval was nie, was Jesus se versoeningswerk tussen mens en God nie nodig nie. Mense wat sulke beskouings huldig, het dus min agting vir die Heilsgebeure of Heilsfeite: Jesus se maagdelike geboorte, sy lyding en sterwe aan die kruis, sy opstanding en hemelvaart. En in die lig van die voorafgaande, waarom sou “vanwaar Hy sal kom om te oordeel “ en “ek glo aan die vergewing van sondes” dan nog deur liberaalgesinde leiers bely word? 1.3 AFWYKENDE BESLUITE Die vraag is nou, in hoeverre wyk die besluite aangaande SGV wat tydens AS2019 geneem is en verder opgeneem word in die gids (in konsepvorm) af van algemeen aanvaarde gereformeerde beskouings, die belydenisskrifte en geloofsbelydenisse? By implikasie gee die AS2019 amptelike goedkeuring aan seksuele verhoudings tussen twee persone van dieselfde geslag wat volgens die Bybel vir die Here ’n gruwelike sonde is. (Gen. 19:5-7; Lev. 18:22; Lev. 20:!3; Rigters 10:22; Rom 1:27; 1 Kor. 6:9-10; 1 Tim 1:9-10; Matt. 19:4-6). Net twee sal hier uitgelig word: “Jy mag nie ’n homoseksuele verhouding hê nie. Dit is ’n afstootlike sonde.” ( Levitikus 18:22). "Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen…” (1 Korintiërs 6:9). Verder sê Matteus 19:4-6 die volgende oor wat die gereformeerde beskouing van wat ‘n huwelik volgens die Bybel is: (4)Hy het hulle geantwoord: “Het julle nie gelees dat die Skepper hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie? (5) Daarby het Hy gesê: ‘Daarom sal ’n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe en hulle twee sal een wees.’ (6)Hulle is dus nie meer twee nie, maar een. Wat God dan saamgevoeg het, mag ’n mens nie skei nie.” Die besluit dat ’n burgerlike verbintenis kerklik bevestig kan word moet verwerp word, want dit is in stryd met wat in die Bybel staan oor die huwelik. Waarom was daar ‘n onwilligheid om te hou by die Bybelse voorskrifte by die AS2019 besluit, en om duidelik in die gids te verwys na wat in die Bybel staan? Waarom was dit wat in die Skrif staan, geignoreer by die besluit wat by AS2019 aangaande selfdegeslagverhoudings geneem is? En waar in die Bybel staan dit dat “diversiteit” (by implikasie homoseksualiteit) ‘n “gawe” is? Ten spyte van wat in die tweede deel van Artikel 2 van die NGB staan, naamlik dat God Homself deur sy heilige en Goddelike Woord nog duideliker en meer volkome aan ons bekend maak as uit die natuur, word daar in die laaste paar jaar meer waarde geheg aan mens- en gedragswetenskappe wat deel is van die algemene openbaring van God. Dit spreek duidelik in die konsepgids. Dit is nie in lyn met “Sola Scriptura” nie. Die drie afdelings van die Heidelbergse Kategismus handel oor kennis van sonde, kennis van verlossing en kennis van dankbaarheid. Die besluit openbaar nie net ‘n verskraalde sondebeskouing nie maar is liefdeloos, want dit ontneem ’n sondaar die voorreg van sondebelydenis, bekering en verlossing. Die verklaring in die konsepgids dat elkeen oor homoseksuele optrede ’n eie opinie kan hê, want dit is ’n randsaak is ook nie in lyn met die Heidelbergse Kategismus nie.

No comments:

Post a Comment